Jou sekuriteit

In alles wat ons doen, is jou sekuriteit die belangrikste.

As jou data nie veilig is nie, is dit nie privaat nie. Dit is hoekom ons seker maak dat Google-dienste soos Search, Maps en YouTube met een van die wêreld se mees gevorderde sekuriteitinfrastrukture beskerm word.

Enkripsie hou jou data privaat terwyl dit oorgedra word

Enkripsie plaas ons dienste op 'n hoër vlak van sekuriteit en privaatheid. Die data wat jy skep, beweeg tussen jou toestel, Google-dienste en ons datasentrums wanneer jy dinge doen soos om e-pos te stuur, 'n video te deel, 'n webwerf te besoek of jou foto's te berg. Ons beskerm hierdie data met veelvuldige sekuriteitslae, insluitend die voorste enkripsietegnologie soos HTTPS en oordraglaagsekuriteit (TLS).

Ons wolkinfrastruktuur beskerm jou data dag en nag

Google bedryf een van die wêreld se veiligste en betroubaarste wolkinfrastrukture – van gepasmaakte datasentrums tot ondersese veselkabels wat data tussen vastelande oordra. En dit word deurlopend gemonitor om jou data te beskerm en dit beskikbaar te stel wanneer jy dit nodig het. Trouens, ons versprei data na veelvuldige datasentrums heen sodat dit in die geval van 'n brand of ramp outomaties en sonder gesukkel na stabiele en veilige liggings verskuif kan word.

Gevaarbespeuring help om ons dienste te beskerm

Ons monitor ons dienste en onderliggende infrastruktuur deurlopend om hulle teen bedreigings, insluitend strooipos, wanware, virusse en ander vorms van kwaadwillige kode te beskerm.

Ons gee nie aan regerings direkte toegang tot jou data nie

Ons gee nooit in die geheim toegang tot jou data of ons bedieners wat jou data berg nie, punt. Dit beteken dat geen regeringentiteit – van die VSA of 'n ander land – direkte toegang tot ons gebruikers se inligting het nie. Ons ontvang soms versoeke om gebruikerdata van wetstoepassingsagentskappe af. Ons regspan gaan hierdie versoeke na en skop vas wanneer die versoek nie spesifiek genoeg is nie of nie die korrekte proses volg nie. Ons het hard gewerk om in ons deursigtigheidverslag openlik oor hierdie dataversoeke te praat.

Enkripsie strek uit foto van Eiffeltoring

Gmail se enkripsie hou e-posse privaat

Gmail steun van meet af aan geënkripteerde verbindings, wat dit vir skelms moeiliker maak om te lees wat jy stuur. Gmail waarsku ook teen moontlike sekuriteitrisiko's, soos wanneer jy 'n e-pos ontvang wat nie deur 'n geënkripteerde verbinding gestuur is nie.

Gmail-e-poskoevert veroorsaak 'n waarskuwingsein deur 'n sekuriteitskandeerder

Gmail se strooiposbeskerming sif verdagte e-posse uit

Baie wanware- en uitvissingaanvalle begin met 'n e-pos. Gmail se sekuriteit beskerm jou beter as enige ander e-posdiens teen strooipos, uitvissing en wanware. Gmail ontleed patrone wat uit miljarde boodskappe afgelei is om eienskappe te identifiseer van e-posse wat gebruikers as strooipos merk en gebruik daardie merkers dan om verdagte en gevaarlike e-posse te blokkeer voordat hulle jou bereik. Jy kan help deur "Gee strooipos aan" te kies vir verdagte e-posse wat jy ontvang.

Masjienleer en kunsmatige intelligensie help Gmail se strooiposfilter om heeltyd al hoe akkurater te word. Dit hou nou 99,9% van strooipos uit jou inkassie.

Chrome-blaaier met vordering van sekuriteitopdatering

Chrome dateer jou blaaiersekuriteit outomaties op

Sekuriteittegnologie verander voortdurend en daarom beteken om veilig te bly, om op datum te bly. Dit is hoekom Chrome gereeld kyk om seker te maak dat die weergawe van die blaaier wat jy gebruik, met die jongste sekuriteitoplossings, beskerming teen wanware en misleidende werwe en meer bygewerk is. Chrome dateer outomaties op sodat die jongste Chrome-sekuriteittegnologie jou beskerm.

Skadelike program klim stilletjies op toestel

Google Play hou potensieel skadelike programme van jou foon af

Een van jou toestel se grootste sekuriteitkwesbaarhede kan die programme wees wat jy daarop installeer. Ons bespeuringstelsel vlag potensieel skadelike programme nog voordat hulle die Play Winkel bereik. As ons nie seker is of 'n program veilig is nie, gaan lede van die Android-sekuriteitspan dit handmatig na. Namate ons ons bespeuringstelsel verfyn, herevalueer ons programme wat reeds in Google Play is en verwyder dié wat skadelik kan wees sodat hulle nie op jou toestel beland nie.

Google blokkeer kwaadwillige en misleidende advertensies

Jou aanlyn ervaring kan bederf word deur advertensies wat wanware bevat, inhoud bedek wat jy probeer sien, vals goedere adverteer of ons advertensiebeleide andersins oortree. Ons neem hierdie probleem baie ernstig op. Ons kombinasie van lewende kontroleerders en gesofistikeerde sagteware blokkeer elke jaar byna 'n miljard slegte advertensies. Ons gee ook vir jou nutsgoed om aanstootlike advertensies aan te gee en te beheer watter soorte advertensies jy sien. En ons publiseer ons insigte en beste praktyke aktief om te help om die internet vir almal veiliger te maak.

Topwenke om jou te help om veilig aanlyn te bly

Hou jou persoonlike rekeninge veilig met hierdie vinnige wenke.

  • Beskerm jou toestelle

  • Vermy uitvissingpogings

  • Blaai veilig deur die internet

Google-sekuriteitskild en -kontrolelys

Skep sterk wagwoorde

Die mees kritieke stap wat jy kan neem om jou aanlyn rekeninge te beskerm, is die skep van 'n sterk, veilige wagwoord. Jy kan dit doen deur 'n reeks woorde te gebruik wat jy nie sal vergeet nie, maar wat vir ander mense moeilik is om te raai. Of neem 'n lang sin en bou 'n wagwoord met die eerste letters van elke woord. Maak dit minstens 8 karakters lank om dit nog sterker te maak, want hoe langer jou wagwoord, hoe sterker is dit.

As jy gevra word om antwoorde vir sekuriteitsvrae te skep, oorweeg dit om vals antwoorde te gebruik om dit nog moeiliker te maak om dit te raai.

Moet nooit dieselfde wagwoord twee keer gebruik nie

Gebruik unieke wagwoorde vir elke rekening

As jy dieselfde wagwoord gebruik om by verskeie rekeninge, soos jou Google-rekening, sosialemediaprofiele en kleinhandelwebwerwe aan te meld, verhoog dit jou sekuriteitsrisiko. Dit is soos om dieselfde sleutel te gebruik om jou huis, motor en kantoor te sluit – as iemand toegang tot een kry, kan almal van hulle gekompromiteer wees.

Hou tred met veelvuldige wagwoorde

'n Wagwoordbestuurder, soos Google Smart Lock in die Chrome-blaaier, help jou om tred te hou met al die wagwoorde vir jou verskillende aanlyn rekeninge en om dit te beveilig. Dit kan selfs tred hou met jou antwoorde op sekuriteitsvrae en lukrake wagwoorde vir jou genereer.

Verskans jou teen kuberkrakers met 2‑stap-verifikasie

2-stap-verifikasie help om enigiemand uit te hou wat nie toegang tot jou rekening behoort te hê nie deur jou te vra om 'n sekondêre faktor, bo en behalwe jou gebruikernaam en wagwoord, te gebruik om by jou rekening aan te meld. Met Google, byvoorbeeld, kan dit 'n sessyferkode wees wat van die Google Authenticator-program af gegenereer word of 'n porboodskap in jou Google-program om die aanmelding van 'n vertroude toestel af te aanvaar.

Vir beter beskerming teen uitvissing, kan jy 'n fisieke Sekuriteitsleutel gebruik wat jy by jou rekenaar se USB-poort insit of wat aan jou mobiele toestel koppel deur NFC (kortveldkommunikasie) of Bluetooth.

Hou jou sagteware op datum

Gebruik altyd die jongste sagteware oral in jou webblaaierbedryfstelsel, inrpoppe of dokumentredigeerders om jou teen sekuriteitkwesbaarhede te beskerm. Wanneer jy kennisgewings ontvang om jou sagteware op te dateer, moet jy dit so gou moontlik doen.

Hersien die sagteware wat jy gereeld gebruik om seker te maak dat jy altyd die nuutste beskikbare weergawes laat loop. Sommige dienste, insluitend die Chrome-blaaier, sal outomaties self opdateer.

Gebruik 'n skermslot

Sluit jou skerm wanneer jy nie jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of foon gebruik nie om te keer dat ander mense by jou toestel inkom. Vir bykomende sekuriteit kan jy jou toestel stel om outomaties te sluit as dit gaan slaap.

Sluit jou foon af as jy dit verloor

Besoek My Rekening as jou foon wegraak of gesteel word en kies “Vind jou foon” om jou data met 'n paar vinnige stappe te beskerm. Of jy 'n Android- of iOS-toestel het, kan jy jou foon oor 'n afstand opspoor en sluit sodat niemand anders jou foon kan gebruik en toegang tot jou persoonlike inligting kry nie.

Blaaier wys wagwoorde wat in Chrome beskerm word

Hou potensieel skadelike programme van jou foon af

Laai altyd jou mobiele programme af van 'n bron wat jy vertrou. Om te help om jou Android-toestelle veilig te hou, doen Google Play Beskerming 'n sekuriteitskontrole op programme van die Google Play Winkel voordat jy dit kan aflaai, en kontroleer van tyd tot tyd jou toestel vir potensieel skadelike programme uit ander bronne.

Om jou data te beskerm:

  • Hersien jou programme en verwyder dié wat jy nie gebruik nie
  • Besoek jou programwinkelinstellings en aktiveer outo-opdaterings
  • Gee slegs aan programme wat jy vertrou toegang tot sensitiewe data, soos jou ligging en foto's

Pas op vir e-pos-swendelary, foppryse en geskenke

Boodskappe van vreemdelinge af is altyd verdag, veral as dit lyk asof dit te goed is om waar te wees – soos om te verklaar dat jy iets gewen het, om pryse aan te bied vir die voltooiing van 'n opname, of om vinnige maniere aan te beveel om geld te verdien. Moet nooit op verdagte skakels klik nie, en moet nooit persoonlike inligting op twyfelagtige vorms en opnames invul nie.

Wees versigtig vir versoeke vir persoonlike inligting

Moenie op verdagte e-posse, kitsboodskappe of opspringvensters antwoord wat persoonlike inligting – soos wagwoorde, bankrekeninge en kredietkaartnommers, of selfs jou verjaarsdag – vra nie. Selfs al kom die boodskap van 'n werf soos jou bank wat jy vertrou, moet jy nooit op die skakel klik of 'n antwoordboodskap stuur nie. Dit is beter om direk na hul webwerf of program te gaan om by jou rekening aan te meld.

Onthou, legitieme werwe en dienste sal nie boodskappe stuur wat versoek dat jy wagwoorde of finansiële inligting per e-pos te stuur nie.

Pas op vir identiteitsbedrieërs

As iemand wat jy ken vir jou 'n e-pos stuur, maar die boodskap lyk vreemd, is dit moontlik dat hul rekening gekraak is.

Pas op vir:

  • Dringende versoeke vir geld
  • Iemand wat beweer hulle is in 'n ander land gestrand
  • Iemand wat sê hul foon is gesteel en kan nie gebel word nie

Moenie die boodskap antwoord of op enige skakels klik tensy jy kan bevestig dat die e-pos legitiem is nie.

Kontroleer weer lêers voordat jy dit aflaai

Sekere gesofistikeerde uitvissingaanvalle kan deur besmette dokumente en PDF-aanhegsels voorkom. Gebruik Chrome of Google Drive om 'n verdagte aanhegsel veilig oop te maak en die risiko om jou toestel te besmet, te verminder. As ons 'n virus bespeur, sal ons vir jou 'n waarskuwing wys.

Gebruik veilige netwerke

Wees versigtig om publieke of gratis Wi-Fi te gebruik, selfs dié wat 'n wagwoord vereis. Wanneer jy aan 'n publieke netwerk koppel, sal enigiemand in die omgewing jou internetaktiwiteit, soos die webwerwe wat jy besoek en die inligting wat jy by werwe intik, kan monitor. As publieke of gratis Wi-Fi jou enigste opsie is, sal die Chrome-blaaier jou in die adresbalk laat weet of 'n werf veilig is.

Soek veilige verbindings voordat jy sensitiewe inligting invoer

Wanneer jy deur die web blaai – en veral as jy van plan is om sensitiewe inligting soos 'n wagwoord of kredietkaartbesonderhede in te voer – maak seker dat die verbinding met die webwerwe wat jy besoek, veilig is. 'n Veilige URL sal met HTTPS begin. Die Chrome-blaaier sal 'n groen, geslote, slotikoon in die URL-veld wys en "Veilig" sê. As dit nie veilig is nie, sal dit “Nie veilig nie” lees. HTTPS help om jou blaaiaktiwiteit veilig te hou deur jou blaaier of program veilig aan die webwerwe wat jy besoek, te koppel.