Jou data

Ons wil hê dat jy verstaan watter data ons insamel en gebruik.

Wanneer jy Google-dienste gebruik, vertrou jy ons met jou data. Dit is ons verantwoordelikheid om dit duidelik te maak wat ons insamel en hoe ons dit gebruik om ons dienste beter vir jou te laat werk.

Hier is die drie hoofsoorte data wat ons insamel:

Dinge wat jy doen

Wanneer jy ons dienste gebruik – byvoorbeeld, 'n soektog op Google doen, rigtingaanwysings op Google Maps kry of 'n video op YouTube kyk – samel ons data in om hierdie dienste vir jou te laat werk. Dit kan insluit:

  • Dinge waarna jy soek
  • Webwerwe wat jy besoek
  • Video's wat jy kyk
  • Advertensies waarop jy klik of tik
  • Jou ligging
  • Toestelinligting
  • IP-adres en webkoekiedata

Dinge wat jy skep

As jy met jou Google-rekening aangemeld is, berg en beskerm ons dit wat jy skep deur ons dienste te gebruik. Dit kan insluit:

  • E-posse wat jy in Gmail stuur en ontvang
  • Kontakte wat jy byvoeg
  • Kalendergeleenthede
  • Foto's en video's wat jy oplaai
  • Dokumente, Blaaie en Skyfies op Drive

Dinge wat jou “jy” maak

Wanneer jy aansluit om 'n Google-rekening te kry, hou ons die basiese inligting wat jy vir ons gee. Dit kan insluit jou:

  • Naam
  • E-posadres en -wagwoord
  • Geboortedatum
  • Geslag
  • Foonnommer
  • Land
Google Maps op 'n slimfoon

Hoe Google Maps jou help om vinniger by plekke te kom

Wanneer jy die Google Maps-program gebruik, stuur jou foon brokkies data oor jou ligging anoniem terug na Google. Dit word met data van mense rondom jou saamgevoeg om verkeerspatrone te herken. Byvoorbeeld, Maps kan agterkom wanneer baie voertuie stadig in dieselfde straat beweeg en jou laat weet dat daar druk verkeer is. Wanneer Maps jou weer oor 'n ongeluk waarsku en jou na 'n vinniger roete lei, kan jy daarom data van jou medebestuurders vir die kortpad bedank.

Google Search-balk met outovoltooi

Hoe Google jou soektogte outovoltooi

Jy weet wanneer jy na iets soek en 'n tikfout maak – maar op die een of ander manier weet Google in elk geval wat jy bedoel het? Ons spellingkorrigeringmodel gebruik data van mense wat vantevore dieselfde fout gemaak het om dit vir jou te korrigeer. Dit is hoe ons weet dat wanneer jy “Barsalona” tik, jy heel waarskynlik “Barcelona” bedoel het.

Jou soekgeskiedenis kan Google ook help om jou soektogte te outovoltooi. Byvoorbeeld, as jy vantevore na “Barcelona-vlugte” gesoek het, kan ons dit in die soekkassie voorstel selfs nog voordat jy dit klaar getik het. Of as jy 'n aanhanger van die sokkerklub is en gereeld na “Barcelona-tellings” soek, sal ons dit dalk onmiddellik voorstel.

Chrome-oortjie met 'n vorm wat met outovoltooi ingevul is

Hoe Chrome vorms vir jou invul

Elke keer as jy aanlyn 'n aankoop doen of vir 'n rekening aansluit, gebruik jy tyd om vorms met jou persoonlike inligting in te vul. Wanneer jy Chrome gebruik, kan ons dinge soos jou naam, adres, foonnommer, e-posadres en betaalinligting stoor sodat ons hierdie vorms vir jou kan outovoltooi. Jy kan altyd spesifieke outovoltooivelde wysig of hierdie instelling heeltemal deaktiveer.

Google Search-balk met profielfoto en privaatresultate-knoppie

Hoe Google Search jou help om jou eie inligting te vind

Google Search kan nuttige inligting in Gmail, Google Foto's, Kalender en meer gaan haal en dit in jou private soekresultate wys sodat jy nie self daarvoor hoef te gaan rondkrap nie. Soek eenvoudig na dinge soos “my tandartsafspraak,” “wys vir my my strandfoto's” en “waar is my hotelbespreking”. Solank jy aangemeld is, sal ons hierdie inligting in ander Google-dienste gaan haal en dit in net een stap vir jou gee.

Kletsborrels tussen 'n gebruiker en Google-assistent

Hoe jou Google-assistent jou kan help om dinge gedoen te kry

Jou Assistent is altyd gereed om te help, of jy nou by die huis of aan die beweeg is. Wanneer jy jou Assistent 'n vraag vra of dit aansê om iets te doen, gebruik dit data van ander Google-dienste af om vir jou te kry wat jy nodig het. Byvoorbeeld, as jy vra "Watter koffiewinkels is naby?" of "Het ek môre 'n sambreel nodig?" gebruik jou Assistent inligting van Maps en Search af, asook jou ligging, belangstellings en voorkeure, om vir jou die mees relevante antwoord te gee. Jy kan altyd die My Aktiwiteit-nutsding besoek om data wat vanaf jou interaksie met jou Assistent ingesamel word, te bekyk of uit te vee.

Neem beheer van jou Google-ervaring

Hier is 'n paar nutsgoed wat jy enige tyd kan gebruik om jou privaatheid te bestuur.

Blaaier waarin My Rekening gewys word

Beheer jou privaatheidinstellings by My Rekening

Jy kan ongeag of jy 'n Google-rekening het, besluit watter soorte data Google-dienste beter vir jou kan laat werk. My Rekening gee jou vinnig toegang tot nutsgoed wat jou help om jou persoonlike inligting te bestuur en jou privaatheid te beskerm.

Vorige soektoge in 'n Chrome-venster

Sien by My aktiwiteit watter data in jou rekening is

My Aktiwiteit is die sentrale plek waar jy alles kan vind wat jy met ons dienste gesoek het, bekyk het en gekyk het. Ons gee vir jou nutsgoed om volgens onderwerp, datum en produk te soek om dit makliker te maak om jou aanlyn aktiwiteit van die verlede na te gaan. Jy kan spesifieke aktiwiteite of selfs hele onderwerpe wat jy nie met jou rekening geassosieer wil hê nie, permanent uitvee.

Chrome-incognito-ikoon

Blaai met incognitomodus privaat deur die web

Jou webgeskiedenis kan help om jou soekresultate nuttiger te maak, maar soms sal jy dalk privaat wil blaai. As jy byvoorbeeld 'n rekenaar met jou geliefde deel, sal jy waarskynlik nie wil hê dat jou blaaigeskiedenis die verjaardaggeskenkverrassing wat jy soek, moet bederf nie. Maak in sulke gevalle 'n incognitovenster op jou rekenaar of mobiele toestel oop om Google Chrome te keer om jou blaaigeskiedenis te stoor.